uit Chokers en Survivors

Nathan Trantraal

Delft

Die klippe innie pad
sit soes laities oppie sypaadjie
en vra die heeltyd vi jou virre rand.
Die wind kom en gan
soese man wattie oo sy laities worry nie
’n wind wat net vi homself liewe.
Die lug se mon stink na wyn.
Die son wêk nine to five
omdat dai is wat hy doen.
Hyt nog nooit consider
dat hy iets annes kan doen nie.
Die boeme hang heeldag oo hulle miertjies
en hou anne mense se biesagheid dop.
Die sand het vyl voete en lang naels,
maarie sand loep van dee tot dee
en sit in ammel se hyse.
Die mense is cigarette-toppatjies
opgestop in metjieboksies.





Woensdag, 16 Februarie 1988

Ek is nog klein.
Ek staan allien innie agtejaat
by my ouma-hulle hys en ek voel sad
omdat ek wiet vandag isse boring, unimportant dag.
Ek wiet die dag het niks gedoen
wattit worthy maak om onthou te wôtie.
Ek voel sad omdat ek wiet daa was al dysende dae
soes dié wat ek al kla vegiet et.
’n Mens kyk trug op jou liewe ennie goed wat ytstaan,
dai is vi jou jou liewe.
Maa dai issie die liewe nie.
Dai issie highlights reel.
Jou liewe isse klom dae wat niks gebee nie.

Ek stap narie wasgoed wat oppie lyn hang,
ek sit my hand tien ’n nat handdoek
en ek dink ek gan nooit die dag vegietie.





Hammie

Ek et dié gedig twie kee geskryf
wan my ma hettie eeste een gelies
toe sê sy vi my: “Jy kannie al dai goed skryfie,
hulle gan my innie tronk opslyt.”

It is by haa wat ek gelee et
hoe om te hustle.
Nie dai gangsta-hustle ie,
ma dai vrou-allien-sôg-vi-ses-kinnes hustle,
dai righteous hustle.

My ma het my gelee
ommie sentimental te wiesie.
Die eeste ding wat sy gepawn et
was haa trouringe.

My ma groet gangsters en kêkmense dieselle
wan sytie kêkmense geken
voo hulle gangsters geraak et
ennie gangsters voo hulle
hulle harte virrie Here gegie et.
My ma respek nieman te veel of te min nie.

Sy roek drie pakkies êntjies ’n dag as sy het
en as sy nie hettie, dan tel sy toppatjies op
en swai vi ôs pilletjies mettie phonebook.
As jy heeldag nie geroekittie
dan voel elke puff soese man-sized hit.

My ma gloe in niks én sy gloe in alles
en jy sal nooit wiet of sy liegie.
Syt vi my gelee hoe om te lieg
en hoe omme storie te vetel
en hoe om te worry:
die secret is om te gan slaap.

Jy worry bieter as jy ytgerus is.





Esprit

Riefka het vroeg gelee
dattie way na ’n man se hart
dee haa mag is.
Sy wasse druggie op dêtien
enne prossie op vyftien.

Riefka wasse mooi meisie.
Ammel was mal oo haa oë
wat somtyds blou was
en somtyds groen.

Mense praat nou nog vannie goed
wat sy innie boys toilet gedoen et
en baie up-and-coming-meisies
gebryk haa career path asse blueprint.

Haa niefies en niggies wat saam haa op skool was
het simply na haa refer as “hai jintoe”
as hulle van haa gepraat et.
Riefka was confused oo haa niggies en niefies,
oo haa familie in general.
Sy was confused oo wie haa pa was.
Ammel het gewiet wie haa pa was, behalwe sy.
Haa ma het hom gelos net na sy gebore was
en vi haa gesê dat Mr Piel haa pa is.

Riefka kanittie onthou nie
wan sy was nog ’n baby
Maa haa ma
het eenkee met haa pa gestry
toe wôd sy soe kwaad
dat syrie man mettie baby gooi.

Later het haa pa heeltemal befok geraak
en somme ’n ayaman gewôd. En gefokof.
Maarit wassie all bêtie
wan haa ma het altyd vi hulle gesôg.

Riefka sallie dié onthou nie
wan sy was nog baie klein.
Maa een Christmas, sy was sieke vie,
en haa broe en haa suste was twaalf en tien,
toe koep haa ma vi hulle ’n Krismisboks:
vi Faheem en Sieda
’n kis bier enne borrel whiskey,
en vi Riefka, omdat syrie baby was,
’n borrel Esprit liqueur.

Toerie kinnes klaa gesyp et
lê Riefka innie jaat innie sand en swem
en allie grootmense staan en lag
vi hoe oulik sy lyk as sy dronk is.